Briewe vir Buurvrou (3)

n Mens kry Buurvroue-oorkant-die-pad en langsaan-Buurvroue anderkant die heining. En soms, as die Heer vir jou baie goed is
gee Hy vir jou ‘n Buurvrou-van-die-gees. Só ‘n buurvrou verstaan die gesels van jou hart…

Herfs 1989

Môresê

Snaaks hoe die herfs so saam met sy ongelooflike goue dae en kleure-skouspel tog ‘n stuk weemoed om my hart kan kom vou. Die een oomblik kan ek my nog verlustig in die koestering van ‘n vriendelike son. Sy warmte is sonder die venyn van ‘n moegmaak-somer. Tog bring die vroegmiddag se lang skaduwees ‘n kilte oor my menswees.

Dit is nou regtig HERFS hier – so mooi! Ek wens jy kon dit sien. Die veld is nog groen nou voor die winterryp toeslaan, maar oral staan die kollekolle heldergeel van populierbome wat amper oornag verkleur het. Soggens op pad werk toe ry die seisoen saam op die motor se neus en warrel bruingoud blare een-een by die venster verby.

Net eergister was die boom voor die huis nog groen met spatseltjies geel hier en daar. Vanmiddag roep ons oudste met verwondering: Mamma, kyk die boom! Teen die donkerwolke van ‘n naderende storm staan hy geel getooi terwyl die laatmiddagson tussen sy blare dans.

“Agtertoe kyk is agtertoe verlang; en een wat agtertoe verlang, beur maar steekserig vorentoe.”

Eitemal

Weet jy Marijke, hier midde-in die Stormbergse herfs is dit asof my agtertoe verlang, soos Eitemal sê, nie meer so vreeslik rem aan my nou se belewenis nie. Dis asof ek saam met die rypword van die jaar vir die eerste maal perspektief kry oor die trauma van die weggaan en afskeidneem van Wellington en sy mense. Ek kyk nou so skuinsweg oor my skouer agtertoe, maar bly tog aanstap. Ek verkneuter my nog in die kosbare lekkerkry van gister, maar ek kan my nuwe nou in die oë kyk.

Teen alle waarskuwings van gesonde verstand in begin ek weet van ‘n nuwe vasgroei. Al is dit anders hier.

Ek kan wat was as uniek onthou, vasdruk teen my hart. Maar daar kruip ‘n besef nader dat dit wat in die gister kosbaar was nie deur die vandag kanselleer word nie. Ou geesgenote kom in splinternuwe gedaantes oor my pad. Nuwe vriende begin ook slyp en poets aan fasette van my wees wat ek nou eers ontdek. Die troos is dat herinneringe bly, myne. Niks vee dit wat ek gelééf het uit nie.

My gedagtes kuier nog gereeld by jou, ek sou wou oorstap en my elmboë op jou kombuistoonbank rus. Saam kon ons die herfsdrag van die Bolandse wingerde besing!

Maar my hart is minder opstandig. Elke nuwe dag word die vorentoe-beur minder moeisaam.

Herfsgroete

Karen

Advertisements

Briewe vir Buurvrou (2)

”n Mens kry Buurvroue-oorkant-die-pad
en langsaan-Buurvroue anderkant die heining. 
En soms, as die Heer vir jou baie goed is
gee Hy vir jou ‘n Buurvrou-van-die-gees.
Só ‘n buurvrouverstaan die gesels van jou hart…

‘n GENADE-koepel

Dagsê Buurvrou!

Verlang word soms ‘n fisiese, binneste seer.  Vandag was so ‘n Sondag.  Sombergrys buite, en toe ek binne in die stilte van die kerk tot ruste kom was dit rou daar waar die verlang aan my hart skaaf.

Hoe graag sou ek nie vanoggend onder die wakende oog van oom Andrew Murray wou verbystap om dan tussen die koel, wit mure van Wellington se moederkerk my kop te buig in die Vader se spesiale teenwoordigheid nie. Dan sou ek deel in die gewyde samesang terwyl ek so nou en dan die oog vang van ‘n bekende wat saam bly is voor ons Heer.  Dit was asof die kerkgebou meedoen aan die regte stemming skep, nog voordat die boodskap begin: God IS hier, by my en in my en oral OM my…

Burgersdorp se kerk is ook pragtig, ja!  Sterk klipmure wat ‘n mens onwillekeurig laat dink aan ‘n veil’ge vesting, soos ons so dikwels sing.  En op die muur bo die preekstoel, half verskuil agter die orrelpype: Onze hulp is in die Naam des Heeren. Op die kerkbankskouers is naamplaatjies wat dateer uit die dae toe elke kerkganger nog op sy eie sitplek aanspraak gemaak het.  Besonderse kleurvensters laat my gedagtes sprokiespeel.

Maar weet jy Vriendin, dit is asof die RUS my bly ontwyk.  Die opstand wat met die afskeidneem in my gebroei het stoot weer van voor af in my keel op. My kieste span styf om die huil terug te byt.

Die orrel begin speel.  Die ryk klanke vul die ruimte, spoel my hart binne, roer my soos net die musiek kan.  Hoe lieflik is u wonings , Heer der leërmagte, hoe begeer my hart en hunker van verlange… Mmm, eintlik mag ons nie begeer nie. Tog, dié soort begeer, die smag na ‘n onverwoordbare vrede,  mag seker darem?

Ek het nie die ópkyk beplan nie.  Dit gebeur net. Vir die eerste keer sien ek die ontsaglike koepel raak.  Dit oorspan die kerkruimte en iets van die grootsheid van die Skepper word vasgevang in die hoogheid van die rondings.  Meteens breek die son buite deur die grys wolke en kleur die koepelvensters helder.

En skielik is ek skaam.  Skaam omdat ek God se teenwoordigheid wou vasbind aan dit wat vir my bekend was.  Want hier, nou, onder die kosmos van kleure weet ek dit opnuut:  my God is hier, oral!  Sy genadekoepel oorspan my hartseer, my vrees vir die vreemde, my teruggryp na dit waaraan my hart vas was.  En nou word die erediens ‘n fees en één met die nuwe gemeente jubel ek grote God aan U die eer!

By jou is daar verstaan, daarom kan ek dit sê:  ek mis alles wat vir my so bekend was.  Die veilige koestering van ‘n vriendekring wat oor jare heg gegroei het, die waarborg van ‘n ek-behoort-êrens gevoel, jy en die kosbare wat ons kon deel.

Moenie slaap nie, kyk!
Agter die gordyne begin die dag dans
met ‘n pouveer in sy hoed

Terwyl nuwe lig deur die Sondaggrys om my hart begin breek, maak daar ‘n klein venstertjie van verstaan in my oop.  Dit is asof ek wakker word. Hier wag ook vreugdes, dansdae,  nuwe oomblikke om vas te gryp.

Maar daarvan skryf ek later.  Ek het tyd nodig om die nuwe dink te orden.

Met ‘n hart-tot-hart drukkie.

Karen

My onthou is my geskiedenis

Heer, hou oor ons die wag

wees alomteenwoordig

ons oë altyd op U gerig

gee water vir die dors van hierdie kind

so lank die son

by hierdie land kom water drink

tot in ewigheid,

Amen!

Uit:Suidland Gebed Lize Beekman

Dis nie dat ek die ou vlag terugwens nie.  Inteendeel.  Ek kners steeds – soos voor 1994 – op  my tande as iemand die landsvlag onderstebo rondswaai, of nog erger, hys!  Of wanneer ‘n winkelsentrum (wat ‘n mens laat betaal vir parkering) tevrede is om ‘n verflenterde en verfloiingde weergawe skaamteloos aan hul vlagpaal te laat wapper trek my keel wrewelrig toe.

Oud of nuut of reënboog of oranjeblanjeblou?  Dis net ‘n vlag, ‘n lap.  Met ingebed ‘n simbool.  En simboliek wat blý lank nadat mense en hul ideologieë gekom en gegaan het.

Kleintyd se Republiekdae het ons kaalvoet en trots eer betoon aan “die land wat ons liefhet”.  Daar was  ‘n vlag ook,  maar dis veel meer as ‘n lap wat in die onthou vasgesteek het. Dis ‘n spesiale omgee. ‘n Onverklaarbare, soms onverantwoordelike lojaliteit wat in jou gene gevestig is.

Ja, dalk lojaliteit wat jou toe soms met blindheid geslaan het.  En nou ‘n nuwe lojaliteit wat jou laat aanhou en uithou en laat blý glo. Saam met 1994 het ‘n mens begin droom oor ‘n splinternuwe gedeeldheid wat gewortel sou kon wees in wedersydse respek.  ‘n Saam-gevoel waarbinne jy dan toegelaat sou word om te weet én te onthou waar jy vandaan gekom het.  My onthou is my geskiedenis.  Die geskiedenis staan vas. En my onthou word moeilik uitgevee. 

En op ‘n dag in 2019 tref vreemde nuus jou: nog ‘n hofsaak, nog breinkrag wat ure en geld belê in ‘n baklei om ‘n ou vlag, teen die geskiedenis.  Asof dít dit wat onuitveebaar is ongedaan kon maak.

Maar op amper dieselfde dag in 2019 word vir 12:00 ‘n minuut se stilte afgekondig vir KwaZulu-Natal.  Vir die vloedslagoffers. Die dakloses.  ‘n Stuk van ons almal se land in rou.  En saam daarmee, sê hulle, moet die landsvlag halfmas hang.  Nie ‘n ou vlag nie, ook nie ‘n nuwe vlag nie, maar ons land se vlag.  En juis in so ‘n oomblik word die vlag ‘n stem van ootmoed en omgee van almal in hierdie Suidland.*

Die ou vlag is oud.  Geskiedenis.  Maar ‘n mens sou wou hoop dat die emosie van trou aan ‘n geboorteland kan bly.  Ten spyte van.

* Luister, en bid saam:  Lize Beekman Suidland Gebed

Briewe vir Buurvrou (1)


n Mens kry Buurvroue-oorkant-die pad en langsaan-Buurvroue anderkant die heining. En soms, as die Heer vir jou baie goed is gee Hy vir jou ‘n Buurvrou-van-die-gees. Só ‘n buurvrou
verstaan die gesels van jou hart…


“Wie kan sê dat iets op aarde joune is? Selfs jou naaste en dierbaarste verdwyn uit jou vasvat, soos water wat deurloop, en dan verdwyn jyself ook net so. So is dit seker reg en goed, maar wat so ongerymd is, is dat ‘n mens so innig verlang na iets blywends wat aan jou hart behoort.
En nooit kry jy dit nie, nie in joue eie kind nie. Die verbygaande aard van alles, en die hunker na ‘n blywende besitting – ek begryp dit nie – behalwe dat dit wys na ‘n ander toestand na hierdie lewe, waar die verlange sy vervulling sal vind.”
M.E.R. (3 September 1933)

Nuwe seisoen

Liewe Marijke

Ek verlang na jou, weet jy! Na jou en na ons saamwees en ons kinders se maatswees. En na alles wat so deel geword het van my elke dag se hartklop. ‘n Mens groei darem maar vas aan die mense en die dinge om jou. En dis eers met die losmaak wat die besef deurdring.

Nou skryf ek aan jou hier uit die vreemde, ver wêreld wat so anders met my praat as die taal waaraan ek oor die jare gewoond geword het. Onthou jy nog hoe het ons saam op die kaart gesoek na ons nuwe tuisdorp? Die wete van ons weggaan het ‘n swaar knop in my keel kom word.

Maar toe ons uiteindelik een laatmiddag amptelik arriveer was daar tog ‘n warm opwinding wat so saam met die bang om my hart wou-wou vou. Vlak agter die huise lê ‘n mooie Karoorant warm-oranje in die laaste son en tussen die groen van baie bome soek ons rigting verby vreemde straatname.

“Dis nie so plat nie. Ook nie so vaal nie”, erken ek half-teësinnig teenoor myself.

Nou leef ons al ses maande hier in ‘n nuwe wêreld wat nie meer so vreemd is nie. Anders, maar ook mooi. Die baie reën het die wintervaaltes groen gekleur en die veld juig dankbaar na die baie genade.

Hier reën dit mos anders Buurvrou. Teen drie-uur in die middag is dit asof iemand ‘n donker kombers voor die venster gehang het en skemerte laat ons vierjarige vra of hulle nou al moet gaan slaap! Dan daal daar so ‘n diepstilte, so asof alles buite asem ophou. Soms blaas die wind meteens die stilte weg en waai groot druppels driftig teen die vensters vas. Ander kere weer raak dit net nog stiller…tot jy die nat in die lug ruik nog voor die druppels op die pad buite raas. Nou het dit sommer aand geword, dink ek. Maar skielik is alles oor en uit die weste weerkaats die son warm in die venster en toor gekleurde waterspieëls in die plasse op die grond.

O ja, ek mis die reën van die Boland! Daardie saligheid van gaan slaap met ‘n sagte, aanhoudende geruis in jou ore. En met die oggend se wakkerword die wete: dit reën steeds! Buite is dit grys en nat. Ek verlang na die berge en die diep voue van die klowe, die groen wingerde aan die soom van die pad.

Die swaar-verlang is soms sonder troos. Dit stoot net die hunkering na iets blywends vorentoe in my gemoed. Dis ‘n nuwe seisoen, ek weet. Ek sal van voor af moet leer oopmaak, sonder voorbehoud ervaar. En dan maar weer vasgroei? Die tyd sal moet leer hóé.

Intussen moet jy onthou dat ‘n stukkie van my hart daar by julle agtergebly het. Hou saggies vas, seblief.

Hartgroetnis

Karen